Home » Mei » ‘n Vroeë lewensles

‘n Vroeë lewensles

Die liefde vergaan nooit nie (1 Korinthiërs 13:8).

Dit is ‘n groot seën as mens ‘n vroeg in jou lewe reeds belangrike lewenslesse of -waarhede kan leer en waardeer.

Soos ‘n goeie vriend wat reeds as kind by sy ma geleer het om alle mense te respekteer. En dit toe vir ‘n kort tydjie as jong ingenieur vergeet het. Totdat hy uit ’n onverwagse oord weer daaraan herinner is.

Dit het gebeur pas nadat hy sy werk as siviele ingenieur begin het. Synde jonk en gretig om ‘n sukses van sy loopbaan te maak, het hy as die sogenaamde kundige van ‘n bepaalde projek, groot druk op die ander, minder gekwalifiseerde spanlede geplaas.

Dit ook gebruik om sy eie meerdere kennis uit te stal.

Sonder dat hy dit goed besef het, het sy jeugdige arrogansie, en veral sy ongevoeligheid vir die bydrae van ander, ‘n geweldige negatiewe uitwerking op hulle gehad.

Dit was eers toe die voorman hom op ‘n dag eenkant roep en met hom hieroor gepraat het dat sy oë oopgegaan het vir die gevare van sy voortvarende houding. Die voorman, wat al jare op die projek gewerk en hope ervaring en kundigheid gehad het, het hom nie alleen hiervan bewus gemaak nie – hy het hom spesifiek aangevat oor wat hy as disrespek vir ander, ewe bekwame mense soos hy, ervaar het.

Vir my vriend was dit ‘n groot verleentheid, maar terselfdertyd ook, soos hy dit stel: “Een van die belangrikste lesse wat ek destyds as ‘n jong professionele persoon geleer het. En gelukkig ook vroeg genoeg in my lewe.”

My vriend, wat reeds afgetree is, help tans met onderrig aan een van ons universiteite. “Dáár,” so vertel hy my onlangs, “vertel ek dikwels hierdie verhaal, gewoonlik aan die begin van die kursus. Want wat help dit studente win allerlei tegniese kennis in, maar weet nie hoe om met liefde en respek teenoor ander op te tree nie?”

Wat ‘n tydige herinnering! Ook vir ons as gelowiges wat soms so gedrewe en selfgerig leef dat ons ander miskyk.

Here, gee ons vandag weer die openheid om ons te laat leer waar dit nodig is. Amen