Home » Mei » Om mekaar te bekoor en tuis te bring

Om mekaar te bekoor en tuis te bring

Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie (Filippense 1:3).

Onlangs by ‘n retraite ontmoet ek ‘n Anglikaanse kollega wat ‘n jaar gelede sy bediening in ‘n nuwe gemeente begin het.

Toe ek hom vra hoe dit gaan, begin sy oë blink en praat hy opgewonde.

“Dit gaan buitengewoon goed! Omdat ek totaal anders is as my voorganger, het ek eerlik gedink dit sou ‘n lang ruk vir die gemeente vat om my te aanvaar – om aan mý manier en styl gewoond te raak. Maar hulle was van die begin af oop vir wie ek is en wat ek te bied het.

“Vandag het ek die gevoel dat ons nie net mekaar waardeer nie, maar ook wedersyds betower en bekoor (“we enchant one another”).

“Wat meer is, tydens die afgelope lydenstyd waar ek spesiale moeite gedoen het, het ek selfs nóg positiewer ervaring gehad: Ons help mekaar om geestelik tuis te kom.”

In Engels was sy woorde selfs mooier: “We currently walk each other home.”

Ek kon nie anders as om met verwondering na hom te luister nie. Kennende die delikate dinamiek van ‘n gemeente, ook die irritasies en ongeduld wat in baie verhoudings kan insluip, het sy verhaal vir ‘n oomblik na ‘n ongewone en verfrissende uitsondering geklink.

Totdat ek daaraan gedink het: Maar is dit nie presies hoe dit hoort binne ‘n egte Christelike gemeenskap nie? Is dit nie waarna ons gedurig behoort te streef nie? Is dit nie wat die normale patroon, ook binne ons vriendskappe, behoort te wees nie?

Dat ons mekaar bly waardeer, selfs bekoor en só hanteer dat die gevoel wedersyds posvat: “Ons maak mekaar tuis!”

Presies soos met Paulus en die gemeente in Filippi gebeur het.

O Here, skep vandag weer ‘n ervaring van egte gemeenskap in al ons verhoudings. Amen