Home » Mei » Die deug van gasvryheid

Die deug van gasvryheid

Jy moet ook die vreemdeling liefhê, want jy was self ‘n
vreemdeling in Egipte (Deuteronomium 10:19).

Help die medegelowiges in hulle nood en lê jou toe op gasvryheid (Romeine 12:13).

Gasvryheid, daardie spontane gewilligheid om voortdurend met sorg en vriendelikheid jou lewe én huis oop te maak vir vriend en vyand, huisgenoot en vreemdeling, bly een van die groot deugde en opdragte van die Christelike lewe.

Die aanloop daartoe sien ons reeds in die Ou Testament.

Hoe Israel, nadat God hom oor hulle as slawe in ‘n vreemde land ontferm het, dieselfde verpligting teenoor vreemdelinge gevoel het – dit selfs in hulle wetboek ingeskryf het (Lev 19:33, Deut 10:18-19).

In die Nuwe Testament is die deug van gasvryheid selfs nog méér prominent en belangrik. Hier geld dit as ‘n belangrike vorm of uitdrukking van die ware Christelike lewe, selfs as toets of ons begryp waarheen die liefde van Christus ons daagliks wil inspireer en lei.

Paulus suggereer nie verniet dat almal wat uit die genade leef, hulle moet oefen in die gasvryheid nie (Rom 12:13). Terwyl ‘n ou kerkvader soos Benedictus dit onomwonde stel dat gasvryheid onontbeerlik vir ons innerlike welstand en groei is.

Soos ons wel weet, het gasvryheid in ons tyd meer problematies geraak. Die vreemdeling kom vandag dikwels in die gedaante van ‘n skelm of swendelaar na ons toe en is daarom nie altyd te vertrou is nie. In baie Europese lande, ook by ons, word die vreemdeling deesdae as ‘n bedreiging of gevaar gesien en derhalwe vermy, uitgesluit of selfs vervolg.

Hoewel dit so is en ons inderdaad ons oë moet oophou, mag dit ons egter nooit verhinder of so wantrouig maak dat ons nie langer weë of geleenthede soek om hierdie belangrike deug uit te leef nie.

Want daarsonder sal ons lewe heelwat armer kan wees.

Here, leer ons vandag weer die deug van gasvryheid. Maak van ons oop en vriendelike mense. Amen