Home » Mei » In die skatkamers van God se seën

In die skatkamers van God se seën

Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het,
het julle dit aan my gedoen (Matteus 25:40).

Wie daarna soek hoe om gasvryheid prakties uit te leef, hoef nie verder te soek as die voorbeeld van Jesus nie.

Sy lewe was ‘n toonbeeld van onvoorwaardelike liefde en gasvryheid.

Jesus verkondig nie net die gasvrye liefde van ‘n God wat alle mense na sy maaltyd uitnooi nie (Luk 14:15 vv) – Hy self leef hierdie gasvryheid voor, maak dit sigbaar in sy talle verhoudings met mense.

So roep hy die tollenaar, Levi, en baie van sy omstrede vriende om saam met hom te kom eet. En alhoewel die maaltyd in Levi se huis plaasvind, is dit duidelik: Jesus is nou die gasheer (Mark 2:13-17).

Later, kort voor sy dood, was Jesus soos ‘n slaaf sy dissipels se voete om daardeur weer te sê: “Julle is my spesiale gaste aan wie ek nou my sorg en liefde op hierdie manier bewys – ook sodat julle my voorbeeld in die wêreld daar buite kan gaan uitdra” (Joh 13:1vv).

Ook tydens die vermeerdering van die brood waar Jesus ‘n menigte met vyf brode en twee vissies voed, word dit duidelik hoe Hy daardeur die gasvrye liefde van God vir gewone en behoeftige mense soos ons vergestalt.

Trouens, vir Jesus was gasvryheid nie net ‘n saak van meegevoel met ander se nood nie – hy sien dit as ‘n beslissende tree tot deelname aan die koninkryk van God – ‘n weg wat ons moet betree ten einde aan God se seën deel te kry.

Luister net: “Dan sal die koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het my iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir my klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk en julle het My besoek” (Matt 25:34-36).

Die gasvryheid waartoe die evangelie ons roep, is nooit maklik nie. Dit kan ons op onbekende paaie neem. Ook groot opofferings en die prysgawe van ons gerief en veral ons vooroordele vra.

Maar dit lei ons ook altyd dieper in die skatkamers van God se seën in.

Here, gee ons vandag u ruimhartigheid. Ook ‘n oor en ‘n oog om U in die pleitende stem en die smekende oë van ander te herken. Amen