Home » Junie » ‘n Onpeilbare en donker geheim

‘n Onpeilbare en donker geheim

Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank!
Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here (Romeine 7:24).

Die mens bly in baie opsigte ‘n onverstaanbare, onpeilbare en selfs donker geheim of raaisel.

Dít besef ek weer eens toe ‘n vrou onlangs van die groot hartseer in haar lewe vertel.

Hoe sy ‘n jaar gelede haar dogter – dié was maar 25 jaar oud – in ‘n tragiese motorongeluk verloor het. Dit het laataand gebeur nadat die dogter haar laaste skof by ‘n bekende winkelgroep voltooi het. Bekendes, wat ook familie in dieselfde bedryf het, het aangebied om haar dié betrokke aand ‘n geleentheid huis toe te gee.

Op pad terug – so is die vermoede – het die bestuurder aan die slaap geval en die motor laat rol. Die vrou se dogter, wat agter gesit het, is op slag dood – die enigste slagoffer in die ongeluk.

Behalwe vir haar onnoemlike groot verlies, het die gebeure ‘n ander pynlike nadraai gehad. Tot op hede het die bestuurder en sy familie, wat ongeskonde uit die ongeluk gekom het, nog geen woord met haar daaroor gerep of ‘n besoek kom afê nie.

Geen teken van simpatie, verskoning of verduideliking nie.

Trouens – en dit het haar totaal verstom – die nuus wat mettertyd na haar begin deursypel het, was dat hulle vir háár familie kwaad is! Waarskynlik, so het ek vermoed, is dít hoe onverwerkte skuld dikwels werk: Dit word op ander geprojekteer! Wie sal weet?

Op my vraag of die “vriende” iewers aan ‘n kerk of aan ‘n kring behoort wat hulle bystaan – hulle ook kan aanmoedig om na haar toe te kom en só afsluiting te kry, was haar antwoord: “Ja, hulle behoort aan een of ander handeklap-kerk.”

Dit was tóé dat dit by my opgekom het: “Die mens, ja, almal van ons, bly op ons beste ‘n raaisel, ‘n donker geheim vol onverstaanbare teenstrydighede.”

Dat God, die God van Christus, ons ten spyte daarvan nog liefhet en vergewe, is ‘n groter geheim en raaisel …

O Here, wie is ons tog wat sê dat ons U volg, en dan so traag is om skuld te bely en te leef uit u vergifnis. Vergewe ons asseblief weer daarvoor. Amen