Home » Junie » So oorkom ons die vrees

So oorkom ons die vrees

Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en
hulle was baie bang (1 Samuel 17:24).

Maar U, Here, beskerm my van alle kante, U herstel my eer en aansien (Psalm 3:4).

‘n Vriend vertel onlangs van die verlammende invloed wat vrees eenkeer op hom gehad het.

Dit was toe hy tydens sy dienspligjaar aan ‘n wedloop moes deelneem. Hy het die vorige naweek reeds daarvoor gekwalifiseer en moes dié dag spesiaal Simonstad toe gaan om te gaan hardloop.

‘n Oorwinning dáár, of selfs net ‘n tweede of derde plek, sou hom na groter byeenkomste en hoogtes neem.

Hy was destyds topfiks en diep in sy hart oortuig dat daar min was wat oor die hardloopafstand by hom sou kon kers vashou. Op skool was dit reeds so. En nou, met baie ure se oefen op die paaie van die gevegs- en seinskool bokant Simonstad, het sy selfvertroue en oortuiging steeds sterker gegroei.

Daar was geen twyfel by hom nie – hy sou die wedloop kon wen.

Maar toe hy die middag by Simonstad moes aantree, het iets in hom skielik begin huiwer en geswig. Toe hy weer sien, het hy iewers gaan skuil, homself stilweg uit die voete gemaak.

Later het dit duideliker geword: Dit was vréés, irrasionele en onnodige vrees, wat hom laat terugdeins het – vrees vir ‘n skare, vrees vir die ander atlete, vrees dat hy sou faal.

Dit is wat vrees meesal doen: Dit laat ons huiwer, maak ons onseker, lê ons lam – erger nog, verhinder dat ons ons potensiaal as unieke mense verwesenlik.

Daar is nie baie dinge waaroor my vriend homself in die lewe verwyt nie. Die wedloop op Simonstad is egter wel so ‘n geleentheid. Want hy moes eenvoudig gaan aantree en begin hardloop het. Vertrou het dat hy kon wen. Dit sou sy potensiaal getoets het en selfs ‘n verrassing kon meebring.

Boonop is dit die enigste manier waarop ‘n mens jou vrees oorkom.

Deur in vertroue gewoon te gaan en te begin.

O Here, u ken al die vrese van ons hart. Versterk vandag weer ons vertroue en maak ons moedig. Amen