Home » Junie » Soos ‘n wind wat waai

Soos ‘n wind wat waai

Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid,
maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.
So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is (Johannes 3:8).

Die mees algemene beeld of metafoor waarmee die aard en werk van die Heilige Gees in die Bybel beskryf word, is dié van wind.

Die beeld sinspeel op die asem van God – op God se onsigbare, geheimnisvolle, maar konstante en troosvolle teenwoordigheid en nabyheid in ons lewe.

Toe die aarde nog woes en leeg was, kort vóór die opbloei van alles, lees ons al hoe die Gees van God – byna soos ‘n sagte wind – oor die waters gesweef het (Gen 1:2).

Later wanneer Jesus aan Nikodemus hierdie misterieuse en onsigbare teenwoordigheid van God verduidelik wat ons lewe omvat en kan vernuwe, vergelyk Hy dit weer met die wind (Joh 3:8).

Dit is ‘n wind wat kom en gaan waar hy wil, een waarvan ons die oorspronge en bestemming nie kan peil of verstaan nie. Dit bly geheimnisvol, onverklaarbaar en onvoorspelbaar in sy werking. Maar wanneer hierdie heilige wind die dag in ons lewe instroom, bring dit verandering, soos met ‘n nuwe geboorte – neem dit ons na plekke en mense waarvan ons nooit vroeër kon droom nie.

Open dit ons oë en ons harte op allerlei ongewone, maar bevrydende maniere.

Net soos met die aanbreek van Pinkster waar ons lees dat die Gees soos ‘n rukwind en met vlamme van vuur in die lewe van die dissipels ingedaal het. Sodat hulle gesigte begin straal het en hulle nie kon ophou praat oor God se werk nie. Elkeen in sy eie moedertaal (Hand 2:1-4).

Pinkster is inderdaad ‘n tyd om ons lewe opnuut oop te stel vir die asem van God, vir sy bruisende Gees wat, in de woorde van die geestelike, Jan Berry, vandag weer “soos ‘n helder vlam in die koue hoeke van ons lewe wil inbreek, soos ‘n swiepende wind die stof van apatie en onverskilligheid wil wegwaai en ons wil vul met nuwe vitaliteit en passie”.

Veral passie vir vrede, geregtigheid en skoonheid.

Heilige Gees, asem van God, vul weer vandag my lewe met nuwe energie en uitsig. Waai alles weg wat my daarvan kan weerhou om U beter te ken en te dien. Amen