Home » Junie » Die Gees skep ‘n tuiste vir God

Die Gees skep ‘n tuiste vir God

Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem;
en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Johannes 14:23).

Een van die heel mooiste en belangrikste dinge wat die Gees in ons lewe doen, is om ‘n woning vir die God van Christus in ons lewe te skep.

In dié sin is die Gees ‘n unieke soort tuisteskepper, maak die Gees ons lewe gereed om God te ontvang, sodat ons lewe voortdurend as ‘n welkome en gesellige tuiste vir God kan dien.

Aangrypend skryf Johannes in hoofstuk 14 hieroor, oor hierdie onbegryplike geheim en verlange van die drie-enige God om na óns toe te kom en bý ons te kom woon (Joh 14:23).

In dié hoofstuk is dit duidelik dat hierdie intieme moment die vrug of gevolg van die liefde tussen God en mens is wat, danksy Christus se vergewende liefde, tot volle ryping gekom het. En nou in hierdie ongelooflike droom van eenheid en van diepe gemeenskap gestalte vind (Joh 14:23).

In die Openbaringbrief druk Johannes hierdie einddroom van God amper nóg hartstogteliker uit wanneer hy skryf: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God selfs sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog” (Open 21:3-4).

Die wonder is dat dit die werk van die Heilige Gees is – die Heilige Gees wat nou reeds besig is om soos ‘n goeie tuisteskepper ons lewe te versier met die styl en die grasie van Christus. Ons te bly leer en herinner aan Christus se woorde; om sy portrette, by wyse van spreke, reeds oral in ons lewe op te hang (Joh 14:25-26).

Sodat God met oorgawe in ons kan woon.

Sjoe, glo jy dit? Jy mag maar!

Here God, dat U by en in ons wil woon, gaan ons verstand te bowe. Daarom bid ons alleen: Kom, Heilige Gees, leer ons om hierdie waarheid te omhels en maak van ons lewe ‘n woonplek vir God! Amen