Home » Junie » Die Gees verander ons droefheid in vreugde

Die Gees verander ons droefheid in vreugde

Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees (Johannes 16:24).

Daar is baie dinge in die lewe wat ons vreugde kan steel.

Daar is die verkeerde en dom dinge wat ons doen en waarvan die gevolge, ja, ook die skuld en skaamte, ons jare lank soos ‘n skaduwee kan bly volg. Sodat ons sukkel om dit af te skud.

Daar is die misverstande in ons verhoudings – daardie kwetsende woord of daad wat ons nóg verder van ons vriende, kinders of huweliksmaats verwyder. Sodat ons, dikwels jare lank, in stilswye met diepe ongelukkigheid en frustrasie lewe.

Daar is die skok van onverwagse siekte wat ons lewe bedreig en ons nagte kan laat wakker lê. Of die gebrek aan inkomste of groter-wordende skuld wat ons na die broodlyn dwing en ons met kommer en sorge oor die toekoms laat.

En so kan ons aangaan. Die dinge wat ons vreugde bedreig en ons daagliks broos en onseker laat, is eindeloos.

Vir die dissipels was dit op ‘n stadium die afskeid van hulle geliefde Meester – Hy rondom wie hulle hele lewe en toekoms gebou was. Met die aankondiging van sy vertrek in Johannes 14-16, stort alles in duie, word hulle harte oornag met droefheid gevul.

Hoe troosryk dat Jesus in dié omstandigheid begin praat oor die koms en werk van die Heilige Gees – die Gees van waarheid en gemeenskap wat gereed en besig is om, soos met ‘n nuwe geboorte, sy dissipels se oë vir Jesus se oorwinning oop te maak. Só skakel die Gees hulle droefheid om in vreugde, in ‘n blydskap wat niemand van hulle kan wegneem nie (Joh 16:16-23).

Die belofte geld ook vir ons. Maar dan moet ons vandag opnuut deur gebed en smeking, ook met vertroue na God toe draai – ons lewe en ja, veral ook ons skuld en skaamte, ons teleurstelling en vrese, na God toe bring.

Sodat die Gees in ons kan werk en ons blydskap volkome kan word (Joh 16:23-24).

Gees van waarheid, Gees van blydskap, kom nou en verander ook my droefheid in blydskap. Amen