Home » Julie » ‘n Tragiese dwaasheid

‘n Tragiese dwaasheid

In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad. ‘n Dwaas wys dadelik dat hy beledig voel; ‘n verstandige mens laat nie blyk dat hy gekrenk is nie (Spreuke 12:15-16).

Dié week hoor ek dié aardige maar betroubare storie uit die politieke binnekringe.

Oor ‘n politikus wat beskuldig word van verskeie dade van korrupsie. Ook van verskeie ander verdink word. En tog soos ‘n neet aan sy eie posisie en opinie bly klou en traag is om enige aanklagte teen hom te erken of te laat ondersoek.

Skynbaar het verskeie vriende en raadgewers hom al stilweg en taktvol aangemoedig om, al is dit net by wyse van ‘n klein toegewing, te erken dat alles nie pluis is nie en dat hy daarna moet laat kyk.

Hierdie toegewing, so was hulle gevoel, sou sy beeld en veral sy integriteit op die lange duur net goed doen.

Maar – en dit is die verdere hartseer indien nie tragiese deel van die storie nie – die man is só sku vir goeie raad, ook só sensitief vir kritiek, hy weier volstrek om dié pad te gaan. Trouens, sy eerste woorde was dat hy almal wat hom in so ‘n ongemaklike posisie geplaas het, nog gaan vernietig.

Die man se reaksie is nie onbekend nie. Trouens, die geskiedenis is vol van soortgelyke gevalle en hulle uiteinde is almal dieselfde: selfvernietiging en ondergang, meesal in skande.

Sodat ‘n volgende geslag, in plaas van hulle te eer, met minagting en geringskatting op hulle bitter erfenis terugkyk.

Die grootste tragedie is dat ‘n mens met sulke dwaasheid – want dit is wat die Bybel dit noem – nouliks kan redeneer. Dwaasheid, in die woorde van die teoloog, Dietrich Bonhoeffer, is onaanspreekbaar en daarom uiters gevaarlik.

Waarskynlik bly gebed vir diesulkes die enigste uitweg.

Here, ons bid vandag vir hulle wat dwaas is. Net U kan verandering bring. Raak tog sulke mense iewers aan met u liefde en genade. En help ons om nooit op te hou bid vir ons leiers nie. Amen

Carel Anthonissen