Home » Julie » Tussen oormoed en nederigheid

Tussen oormoed en nederigheid

Maar deur die genade van God is ek wat ek is (1 Korinthiërs 15:10).

Jare gelede het Ferdinand Deist ‘n boek oor gebed geskryf met die mooi titel: “Tussen angs en sekerheid”.

Daarmee wou hy onder andere die pole aangedui waartussen die Christelike lewe afspeel.

‘n Mens sou Deist se duiding van die Christelike lewe ook kon beskryf as die soeke na ‘n balans tussen vrymoedigheid en skroom, oormoed en nederigheid.

Want sien, aan die een kant is dit belangrik dat ons as gelowiges nie skaam of onseker sal wees oor wat ons glo of hoop nie – dat ons altyd bereid sal wees om vrymoedig, duidelik en prontuit te sê: “Ons behoort aan Christus, ons volg sy weg. En dit gee sin aan ons lewe, dit maak ons meer menslik en liefdevol, dit skep hoop vir die toekoms.”

Die mense óm ons wat dikwels hulle eie diepste behoeftes nie ken nie, het dit nodig om hierdie goeie boodskap te hoor, ook die goeie vrugte van die geloof, ja, die hoop en vreugde wat daarin opgesluit is te smaak.

Maar ons moet waak om in ons vrymoedige getuienis nie oor te kom as verwaand, beterweterig of selfs veroordelend nie. Die geskiedenis is vol aaklige voorbeelde van gelowiges en kerke wat hulle hieraan skuldig gemaak het en steeds maak.

Nee, wie hulle geloof bely en verkondig, doen dit altyd in nederigheid, met ‘n bepaalde skroom.

Die rede? Omdat hulle weet dat daar ‘n groot afstand tussen God en mens is. En dat hulle waaksaam moet wees om nie met God se naam of sy genade te smous nie, om dit nie vir hulleself op te eis of selfs tot hulle eie voordeel aan te wend of te misbruik nie.

Dat ons mag glo, Christus mag dien, selfs mag opstaan vir sy naam en eer, bly ‘n genade, ‘n grootse geskenk wat ons onverdiend, maar met dankbare nederigheid elke dag mag ontvang en mag deel.

Here, vandag staan ons weer in nederige dankbaarheid voor U om u genade te ontvang. Gee ons die krag en lus om dit ook met vrymoedigheid en goeie oordeel te deel. Amen

Carel Anthonissen