Home » Augustus » God kom altyd na die kinders

God kom altyd na die kinders

As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie (Matteus 18:2).

Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudige mense bekend gemaak het (Matteus 11:25).

Dit was nie om dowe neute dat Jesus sy volgelinge destyds aangemoedig het om soos kinders te word nie.

Want alleen só, in sy woorde, kon hulle die koninkryk van God betree (Matt 18:2), was hulle oop en afhanklik genoeg dat God self kon naderkom om by hulle woning te maak.

Ook vir hulle te sorg en hulle te bedien met sy velerlei gawes.

In ‘n aangrypende stuk oor sy kinderjare uit die boek “Report to Greco”, beskryf Nikos Kazantzakis die waarde van kindwees, en waarom ons altyd daarop kan reken dat God na ons toe sal kom as ons dit hiermee waag.

Hy druk dit in Engels só uit:

“The child’s brain is soft, his flesh tender. Sun, moon, rain, wind, and silence all descend upon him. He is frothy batter and they knead him. The child gulps the world down greedily, receives it in his entrails, assimilates it and turns it into child … Shutting my eyes contentedly, I used to hold out my palms and wait. God always came – as long as I remained a child. He never deceived me – He always came, a child just like myself, and deposited His toys in my hands: sun, moon, wind. ‘They’re gifts,’ He said, ‘they’re gifts. Play with them. I have lots more.’ I would open my eyes. God would vanish, but his toys would remain in my hands.”

Wat ‘n wonderlike waarheid vir ons as moderne, selfgemaakte en skeptiese mense om aan herinner te word!

Alhoewel, ‘n mens vermoed altyd dat so ‘n stuk prosa vir baie totaal naïef en selfs kinderagtig mag klink.

Jesus het dit reeds geweet (Matt 11:25-30).

Here, laat ons nie skaam wees om telkens weer terug te klim in ons kinderskoene waar ons, sonder om naïef te wees, U beter kan leer ken nie. Amen

Carel Anthonissen