Home » Augustus » Om in die donkerte te leer leef

Om in die donkerte te leer leef

Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood, u redding in die land van vergetelheid? (Psalm 88:13).

“… maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie (Psalm 139:12).

Onlangs tydens ‘n kursus kla ‘n leraar hoe moeilik dit is om altyd positief en blymoedig te bly, om daagliks met hoop te leef.

Hy het alle rede om so te voel.

Hy werk in ‘n gebied van die Kaapse vlakte waar jeugbendes gereeld amok maak. Net die vorige dag toe hy sy kinders by die skool aflaai, vind hulle die skool se hekke vir die soveelste maal afgebreek, die geboue nog eens geplunder. Die kinders is al moedeloos hieroor. Self voel hy magteloos en gefrustreerd.

So wat gemaak as dié soort ellende en donkerte jou omring, jou hoop en uitsig bly versper en belemmer?

Sy storie laat my dink aan die Katolieke teoloog, Albert Nolan, se woorde. In ‘n boek oor hoop herinner ons tereg daaraan dat ons almal broos is, almal deel is van ‘n onrustige en dreigende wêreld wat ons hoop en geluk kan ondermyn.

Terselfdertyd, so vermaan hy, mag ons nooit hoop verloor nie, nooit daaraan twyfel dat God ook in die donkerte werk nie.

Die groot uitdaging, so stel hy dit, is om in die donkerte te leer leef. Om te wag en toe te laat dat ons oë meer gewoond raak aan die donkerte. En ons geleidelik beter kan sien waar ons is, wat om ons aangaan en waar ons moet beweeg.

Veral moet ons leer om raak te sien waar en hoe God werksaam is en waarheen God ons wil lei.

Want vir God, so getuig die psalmdigter (Ps 139), is selfs die duisternis nie donker nie. Hy ken ons situasie en ons klagtes.

Here, wat ‘n troos om te weet dat die duisternis vir U soos die lig is. Maak ons oë opnuut gewoond aan die duisternis en help ons veral om U daar raak te sien en te volg. Amen

Carel Anthonissen