Home » Augustus » Oor ware dapperheid

Oor ware dapperheid

Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here” (2 Samuel 12:13).

Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê (2 Samuel 12:16).

Die huidige gewoel in die wêreld noop ons om opnuut na te dink oor wat egte moed en dapperheid eintlik beteken.

Want dit mag vir sommige dapper en heroïes klink om jouself in militêre gewaad te klee en die strydbyl teen jou teenstanders met aggressie en geweld op te neem. Om oorlog te maak en die stede en inwoners van ‘n ander volk met jou vuurpyle en bomme te bestook en te vernietig.

Presies soos tans in Gasa gebeur.

Of om in jou strewe na selfstandigheid en vryheid, oorhaastig ‘n knoppie te druk wat ‘n burgerlike vliegtuig aan flarde skiet.

Dit alles mag vrééslik manmoedig en dapper klink.

Maar daar is ‘n dapperheid wat hierdie soort roekelose waagmoed by verre oortref. Dit ook ontmasker as swakheid, en miskien die ergste, ‘n bisarre uiting van irrasionele vrees.

Nee, ware dapperheid is iets anders. Dit gaan veel verder. Dit behels onder meer die moed om jouself en ander in die oë te kyk te erken dat jy gefouteer het. Dit is die moed om vreesloos jou skuld te aanvaar. Om soos koning Dawid van ouds toe te gee: “Ek is die man. Ek het gesondig.”

Dit sit in ons almal se bloed om skewe en kwetsende dade te pleeg en te regverdig. Uitweë te soek om onsself daarvoor te verskoon of te verskans.

Wie regtig dapper is, sal egter hierdie egosentriese skanse doelgerig begin afbreek, sal selfs bereid wees om te huil oor hulle skandes en misplaaste trots. Tereg herinner die filosoof, Martin Versfeld, ons hieraan:

“The real warrior is the man who kills egoistic desires.”

O Here, leer ons vandag weer die kuns van egte dapperheid. Gee ons die moed om verantwoordelikheid vir ons skewe dade en optredes te aanvaar. Amen

Carel Anthonissen