Home » Augustus » Die kapasiteit tot deernis is ook daar

Die kapasiteit tot deernis is ook daar

Maar Ek sê vir julle: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg (Matteus 5:44).

Karen Armstrong, ‘n bekende godsdienstige skrywer, se boek “Twelve steps to a compassionate life” is ‘n insiggewende en hoopvolle boek.

In ooreenstemming met die Bybelse siening van die mens, herinner sy ons allereers daaraan dat ons nie so waffers is as wat ons dikwels dink ons is nie.

Die potensiaal tot selfsug, geweld en wanorde skuil diep in ons almal. Dit is selfs in ‘n sekere mate fisiologies vasgelê en kan onder sekere omstandighede onverwags na vore kom.

Sy stel dit so: “There is no doubt that in the deepest recess of their minds, men and women are indeed ruthlessly selfish. This egotism is rooted in the old brain, which was bequeathed to us by the reptiles …”

Tog, en dit is die groot punt van haar boek, het die mens gelukkig ook die kapasiteit en potensiaal om hierdie negatiewe drifte te weerstaan en met groter deernis te gaan leef. Iewers in ons brein, so voer sy aan, is daar ook dele wat anders ontwikkel het en wat ons kan beweeg en motiveer tot daadwerklike empatie en omgee.

Die groot kuns is om dit te bly stimuleer, om daaraan gehoor te gee en ons veral daarin te oefen. Om, soos Armstrong dit stel, die verskillende stappe van deernis te leer ken en te volg

Luister maar net weer ‘n slag goed na Jesus. Is dit nie die deernis- en liefdevolle deel in ons waarop Hy gedurig ‘n appèl maak nie, die dade waartoe Hy sy volgelinge gedurig aanmoedig nie?

O Here, dankie dat U diep in ons die potensiaal tot liefde en deernis gelê het. Help ons vandag om daarheen te draai en ons daarin te oefen. Amen

Carel Anthonissen