Home » September » Fokus op die kleiner dinge

Fokus op die kleiner dinge

Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het (Matteus 13:31).

Die pryswenner-boek van George Bernanos, “The Diary of a Country Priest”, herinner ‘n mens baie aan die verhale van die profete.

Dit gaan oor ‘n jong priester wat worstel met sy roeping – wat nie presies weet waar en hoe God hom wil gebruik nie.

Verskillende faktore dra by tot sy gevoel van onsekerheid en selfs mislukking.

Vir eers leef die gemeente kleinburgerlik, skinder en baklei onder mekaar en word gedomineer deur burokratiese leiers – mense met wie die jong priester kwalik oor die weg kan kom.

Boonop is sy persoonlike lewe deurmekaar. Hy voel verleë oor sy eenvoudige agtergrond, terwyl die spanning van armoede en siekte hom bly pla. In sy dagboek hoor ons hom kla dat hy nutteloos is, dat sy beste nie goed genoeg is nie.

Uiteindelik is dit ‘n ouer kollega wat hom uit sy twyfel help – hom ook help om die genade van God in sy geestelike armoede raak te sien. Selfs te bemerk dat God sy swakheid kan gebruik om ander te troos en te bemoedig.

Een van die belangrikste dinge waartoe die ouer kollega hom aanmoedig, is om rustig voort te werk en veral te fokus op die kleiner take. In sy woorde:

“Keep saying your lessons. Go on with your work. Keep at the little daily things that need doing, til the rest comes … Little things — they don’t look like much, yet they bring peace. Like wild flowers which seem to have no scent, till you get a field full of ’em.”

Uiteindelik is dit wanneer hy getrou die kleiner take begin doen dat die wending kom en hy sy selfvertroue en geloof herwin. In sy dagboek beskryf hy dit só: “Oh, miracle, thus to be able to give what we ourselves do not possess, sweet miracle of our empty hands.”

En dan verder: “Well, it’s all over now. The strange mistrust I had of myself, of my own being, has flown. I believe forever. That conflict is done. I cannot understand it anymore. I am reconciled to myself, to the poor, poor shell of me. How easy it is to hate oneself! True grace is to forget. Yet if pride could die in us, the supreme grace would be to love oneself in all simplicity.”

Watter wonderlike woorde vir mense wat twyfel en wroeg!

Here, vergewe my vandag dat ek myself oorgee aan gevoelens van minderwaardigheid en verwerping. Leer my om myself lief te kry en regop te staan in u genade. Amen

Carel Anthonissen