Home » Junie » Dit is nie in ons hande nie (1)

Dit is nie in ons hande nie (1)

Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie … Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel” (Genesis 28:16-17).

Die Here verras ons te midde van die alledaagse – daar waar ons dit die minste verwag. Abraham sit elke middag op die warmste tyd van die dag in die opening van sy tent. Middag na middag. Dan daag drie mans op en vertel hom terloops dat hy pa gaan word. Sara hou haar maag vas soos sy lag, want wie sê nou sulke dinge op ʼn gewone middag?

Jakob hardloop ver weg van Berseba na Haran, amper 800 km, en dink hy los sy bedrog agter. Elke aand soek hy ʼn klip om sy kop op neer te lê. Aand na aand, dagreis na dagreis. En dan, een aand, ontdek hy die hemel het nog altyd alles met die aarde te make gehad en hy droom van God wat hom, die bedrieër, met beloftetaal kom ontmoet.

God openbaar Hom as die Een wat getrou is aan die belofte aan Abraham en sy nageslag, en wat nie Jakob se optrede oordeel en sodoende sy getrouheid ophef nie.

Dankie dat U ook na my toe kom met beloftetaal, Here, en my bewus maak dat ek welkom is by die poort van u hemel. Amen.

Lisel Joubert