Home » Desember » Die hemel skeur

Die hemel skeur

As u maar die hemel wou oopskeur en wou afkom sodat die berge voor U skud (Jesaja 64:1).

Advent is ʼn tyd van hoop.

Jesaja 64 begin met die verlange: “As u maar die hemel wou oopskeur en wou afkom sodat die berge voor U skud” (v 1). Hierdie woorde word uitgeroep te midde van ballingskap en vyandskap. God word geroep sodat die nasies Hom kan sien en bewe. Tog vra die volk nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie; hulle vra uit ervaring; dit is tog hoe hulle God ken: “Toe U wonders gedoen het, wonders wat ons nie verwag het nie, toe U destyds afgekom het, het die berge voor u geskud” (v 3).

Die verlange na die God wat die hemel oopskeur, is na die God wat hulle Maker is. Net ʼn paar verse later staan daar: “Yet, O Lord, you are our Father; we are the clay, and you are our potter; we are all the work of your hand” (v 8, NRSV).

Die God wat Homself moet openbaar en wat moet help, is nie ver nie. Hy is magtig, maar die magtige Een wat met die intieme woorde “Vader” en “Pottebakker” beskryf word.

Die wonder van Kersfees is dat ons verlange bewaarheid geword het. Die hemel het oopgeskeur, maar die berge het nie gebewe nie. ʼn Baba het gehuil.

Vader, dankie dat U die hemel laat oopskeur het met die koms van u Seun, Jesus Christus, die wonder wat ons nie verwag of verdien het nie, maar wat U uit genade aan ons geskenk het. Amen.

Lisel Joubert