Home » Februarie » Selfprysgawe in plaas van selfverryking

Selfprysgawe in plaas van selfverryking

So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang. Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie (1 Korintiërs 9:14-15).

As daar iemand is wat geweet het dat ons werk altyd ʼn edel roeping inhou, is dit die apostel Paulus.

Sy gevoel van sy roeping was so sterk dat hy tydens sy bediening in Korinte selfs sy reg en aanspraak op vergoeding en lewensonderhoud prysgegee het (1 Korintiërs 9:14-15). Dit selfs in weerwil van Jesus se eie lering hieroor (Markus 6:8-12).

Die rede vir Paulus se optrede was duidelik. Eerstens het hy dit gedoen om goeie verhoudings met die Korintiërs te bou en nie ʼn onnodige las op hulle te lê nie. Maar belangriker nog, met sy optrede wou hy iets weerspieël van God se liefde en genade wat vry en onvoorwaardelik aan ons geskenk word.

Weliswaar geld Paulus se voorbeeld nie in alle omstandighede nie. Tog bevat sy optrede ʼn belangrike herinnering, veral vir ʼn materialistiese samelewing soos ons s’n. Dié herinnering is dat dit in die lewe nie allereers om selfverryking gaan nie, maar om die vryheid en vervulling wat ons vind in die moed om onsself prys te gee en ander te dien.

Soos Paulus, moet ons dit kan waag om ten minste soms en in sekere omstandighede totaal af te sien van ons regte en voorregte en verniet van onsself, ons tyd, ons energie, ons geld en ons aandag aan ander te gee.

Hierin, so verseker Paulus ons, lê daar vir ons ʼn verrassende beloning opgesluit (1 Korintiërs 9:18).

Here, ons is so gewoond daaraan om vir ons werk vergoed te word. Maar U vra dat ons ander mense soms kosteloos en sonder aansprake op lof, erkenning of vergoeding sal dien. Wys ons wanneer U dit van ons verlang. Amen.

Carel Anthonissen