Home » Maart » Die geheim van ʼn vasbyt-geloof

Die geheim van ʼn vasbyt-geloof

Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo (Romeine 4:18).

In Romeine 4 verwys Paulus na Abraham se lewe om die aard van geloof aan ons te verduidelik.

By Abraham sien ons dat sy geloof ʼn soort vasbyt-geloof was, ʼn hardnekkige vertroue en hoop op God se beloftes, ondanks haglike omstandighede.

Haglike omstandighede. Ons almal weet hoe dit ons in vertwyfeling en wanhoop kan dompel. Hoe dit selfs God se beloftes belaglik kan laat lyk. Sodat ons, net soos Abraham, maar net sinies daaroor kan grinnik (Genesis 17:17).

Gelukkig is dit nie die laaste woord oor Abraham se geloof nie. In Romeine 4:13-22 herinner Paulus ons dat Abraham, ten spyte van sy onvrugbaarheid, tog heimlik op God by hoop en vertrou het.

Hierdie vertroue of hoop kom nooit vanself nie. Trouens, in die Genesis-weergawe van hierdie verhaal bly Abraham se geloof steeds toegevou in ʼn worsteling met sy twyfel en onsekerheid (Genesis 17:15-22). Dis Paulus wat eers veel later die gordyn oor die geheim van sy vasbyt-geloof lig.

Hierdie geheim is God se onverklaarbare geduld en genade met Abraham wat sy twyfel en besware aanhoudend oortref en wat Abraham versterk het met die krag van ʼn belofte. Waaruit dit duidelik word dat Abraham se geloof ten diepste ʼn onbegryplike gawe van God was.

Ken ons nie ook dié vreemde gawe van geloof nie? Dat ons in ons donkerste uur dikwels onverwags die vreemde sekerheid ontdek dat die lig wel mettertyd sal deurbreek.

En dan, God alleen weet hóé, hieraan vasgryp en hierop leer vertrou.

Here, dankie vir die gawe van geloof wat U deur u Gees in ons lewe bewerk en waardeur ons U leer vertrou. Kom dan nou, Here, versterk opnuut hierdie vertroue vandag. Amen.

Carel Anthonissen