Home » Maart » ʼn Passiewe knieval

ʼn Passiewe knieval

Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom: “Dit is my verbond met jou; jy sal die vader wees van ʼn menigte nasies” (Genesis 17:3).

Wie indringend na Abraham se geloof kyk, sal gou agterkom dat dit deur ʼn bepaalde soort passiwiteit gekenmerk is.

In sekere sin is dit verstaanbaar. Want wat sê of doen ʼn mens as God op jou oudag aankondig dat jy ʼn kind gaan verwek? Jy maak waarskynlik maar soos Abraham gemaak het – jy val op jou knieë neer terwyl jy lag en by jouself dink: “Hoe op dees aarde dink God sal ʼn honderdjarige dít nog kan regkry” (Genesis 17:17).

Of jy soek self ʼn uitweg deur floutjies ʼn ander voorstel aan God te maak. Soos dat Ismael miskien ʼn goeie plaasvervanger sou kon wees (17:18). Totdat jy die sinloosheid van so ʼn gedagte besef en dan maar terugtree, die saak daar laat, stom en passief voor God buig. Om ten einde raad bloot alles aan God oor te laat.

Maar is dit nie presies wat geloof is nie? Hierdie passiewe knieval voor God waarin ons niks het om aan te bied het nie, behalwe om tot rus en oorgawe voor God te kom. En daar met ons leegheid geduldig te bly wag. Te wag dat God op sý tyd sy beloftes sal waar maak en sy goeie wil sal laat geskied.

Juliana van Norwich, die mistieke gelowige, het hierdie passiewe maar hoopvolle kant van die geloof goed verstaan toe sy haar medegelowiges vertroos het met die woorde: “All shall be well. And all manner of things shall be well.”
Hoor jy dit? “Moet jou nie bekommer nie. Kniel voor God en wag geduldig – alles sal uiteindelik regkom.”

Here, ons kom staan vandag leeg en angstig voor U. Maar ons kniel ook omdat ons glo U sal voorsien. Alles sal uiteindelik regkom. Dankie vir dié troos. Amen.

Carel Anthonissen