Home » April » Woede en bakleierige gedagtes

Woede en bakleierige gedagtes

Ek verwag van die mans dat hulle oral sal bid, met heilige hande omhoog, sonder woede en twis (1 Timoteus 2:8, Direkte Vertaling).

Nog ʼn struikelblok wat maak dat ons sukkel om te bid, hang saam met wat Kenneth Leech “oordrewe woede” noem. En daarmee saam kyfagtige en bakleierige gedagtes.

O, hoe goed ken ons nie dié versoeking nie! Dis byna asof sekere gebeure en mense jou elke dag uitlok om kwaad te raak en te twis.

En al bestaan daar dikwels goeie rede om ontsteld en kwaad te word, moet ons daarteen waak dat ons woede in ʼn negatiewe styl van leef en praat ontaard. En so ons gebedslewe belemmer.

Tereg is Paulus se verlange teenoor Timoteus dat die gelowiges by elke plek van samekoms met ʼn skoon gewete hulle hande in gebed tot God sal ophef, vry van woede en twis (1 Timoteus 2:8).

Ons moet veel eerder, soos Christus, met liefde en erbarming teenoor almal probeer leef. In die woorde van ʼn bekende geestelike: “Refuse to indulge in personal dislikes. No weak sentimentality, and no harsh words. Consider when you speak impatiently how Christ is hurt. Let yourself be filled instead with an abundance of friendship for all.”

Gewis is dit ʼn moeilike opdrag, maar een wat ʼn vryheid waarborg wat min mense ken.

Here, bewaar ons van twissieke en bakleierige gedagtes wat U opnuut verwond en ons van u liefde afsluit. Amen.

Carel Anthonissen