Home » Junie » Die donker kant van God

Die donker kant van God

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? … U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink! (Psalm 22:2, 4).

Volgens die Spaanse geestelike Johannes van die Kruis is daar ʼn derde dimensie van donkerte wat deel van ons geloofsreis vorm.

Hierdie dimensie raak die sentrum of hart van ons geloof – God self.

Dat daar ʼn onbekende, donker kant in God skuil, word – volgens Johannes – ironies genoeg sigbaar in die manier waarop God Hom in die geskiedenis aan mense openbaar. Reeds Moses en die volk moes tydens hulle woestynreis leer dat God nie direk kenbaar is nie. Dat God Hom met sy verskyning op die berg Sinai in die donkerte van rook en vuur verberg het.

Christus verdiep later hierdie stil en donker kant van God wanneer Hy aan die kruis kla dat God Hom verlaat het. Hieroor sou die bekende teoloog Karl Barth skryf: “Die God wat ons aanbid, is nie net hoog bo ons verhewe is nie, maar het Homself verberg in die lewe en dood van die mens, Jesus van Nasaret.”

Later sou die digteres Sheila Cussons hierdie geheim van God se liefdevolle uitreik na die mens in donkerte só beskryf: “O, my kosmiese Christus: drie en dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry.”

Dit was hierdie donker maar genadige kant van God wat die skrywer Janet Morley sou beweeg om te bid: “O God my dark, my silence, whose love enfolded me before I breathed alone, whose hands caressed me while I was still unformed … whose touch unmakes me, whose stillness finds me forever unprepared.”

Heilige God, hoe ouer ek word, hoe minder verstaan ek U. U en u weg met my is meestal in donker gehul. Tog buig ek in oorgawe vandag opnuut voor U – U wat in Christus se donkerste uur gewys het dat U die genadige God is. Amen.

Carel Anthonissen