Home » Junie » Die pyn van uitsluiting

Die pyn van uitsluiting

U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks (Psalm 88:9).

Een van die slegste dinge wat met ʼn mens kan gebeur, is dat jy bewustelik of onbewustelik uitgesluit en selfs afgesny word van geselskap.

In ons samelewing waar mense verkies om gerieflik in hulle bekende en vertroude lewensfeer te leef en te kuier, gebeur dit maklik en gereeld.

Gestremdes ken hierdie pyn van uitsluiting. Hulle weet hoe ongemaklik mense in hulle geselskap raak, nie presies weet hoe en waaroor om met hulle te praat nie. Hoe hierdie mense selfs voel dat omgang met gestremde mense hulle ook in hulle gerieflike lewenspatroon strem. Daarom … liewer maar verbyhou, ignoreer, uitsluit.

Weduwees, wewenaars en ander enkellopendes ken dit. Hoe jou alleenheid jou tot ʼn soort melaatse kan stempel. Sodat jy nou, terwyl jy vroeër meestal saam met ʼn metgesel welkom was, minder genooi en selfs uitgelaat word. Want jy pas nie meer in nie.

Waarskynlik die pynlikste van hierdie soort uitsluiting is wanneer dit in die binnekring van jou familie of bekendes gebeur. Dit is wanneer broer of suster, selfs ouer en kind op ʼn dag van mekaar begin wegleef. Nie langer uitreik, praat of kuier nie. Dikwels weens ʼn wond uit die verlede, ʼn onuitgesproke verwyt of ʼn irritasie. Of omdat die een se lewenspatroon en waardes die ander nie meer geval nie.

As gelowiges wat weet dat Christus Hom voortdurend oor die wese en die weduwees, die eensames en die veragtes ontferm het, moet ons op die uitkyk bly vir hulle wat so uitgesluit word.

En vir jou wat uitgesluit voel: Waarom nie opnuut vra hoekom dit gebeur nie? En belangriker nog: Is daar iets wat jy daaraan kan doen?

Here, gee ons vandag ʼn oog vir dié mense in ons samelewing wat uitgesluit word. Maak ons ruimhartiger. Amen.

Carel Anthonissen