Home » Junie » Soos ʼn weerligstraal

Soos ʼn weerligstraal

Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ʼn lig uit die hemel op hom gestraal (Handelinge 9:3).

Groot insigte en die gepaardgaande wendinge of veranderinge in ons lewe wat daaruit voortvloei, kom dikwels in een onverwagte oomblik na ons toe.

En ons moet daarvoor op die uitkyk bly – dit is deel van die groot avontuur van die lewe.

So vertel Athol Fugard, die bekende dramaturg, dat die groot wending of deurbraak in sy skryfwerk gekom het na aanleiding van ʼn relatief eenvoudige opmerking wat sy ma eendag in sy teenwoordigheid gemaak het. Dit het gebeur so pas nadat sy, vir die soveelste keer, ʼn bedelaar by die deur met ʼn beker koffie en ʼn sny brood gehelp het.

Haar opmerking, terwyl sy die verslete figuur agterna gekyk het, was: “Iets is hier nie reg nie.”

Haar woorde, so Fugard later vertel, was soos ʼn weerligstraal in sy lewe. Dit was asof daar, soos eeue vroeër met die apostel Paulus gebeur het (Handelinge 9:18), skielik groot skille van sy oë afgeval het. Glashelder het hy geweet hy sou sy lewe lank moes skryf oor hierdie ongelykhede en die onreg wat daaragter skuil. Dit was, in sy woorde, sy deurbraak-oomblik as skrywer.

Nie almal van ons ervaar dieselfde as Fugard nie. Maar dat daar sulke oomblikke van waarheid en bevrydende insig in ons lewe nodig is, is gewis. Die geskiedenis leer dat sulke ervarings dikwels die kiem vir belangrike veranderinge in ons lewe en selfs in die breë samelewing in hulle omdra.

O Here, dankie vir insigte waarmee U ons lewe verander. Kom vandag weer, Heilige Gees, en raak ons aan met u troos en lig. Amen.

Carel Anthonissen