Home » Julie » Hiermee kan jy sterf

Hiermee kan jy sterf

Sing ʼn nuwe lied tot eer van die Here, sing sy lof in die vergadering van sy troue dienaars (Psalm 149:1).

Daar is musiek wat so ongewoon mooi en roerend is dat jy letterlik die gevoel kry: Met dié klanke in my ore sal ek eendag kan sterf.

Een so ʼn lied is die aangrypende “Ukuthula” uit die Zoeloetradisie.

Ek het hierdie lied vir die eerste keer gehoor toe die bekende Taizé-broers Suid-Afrika drie dekades gelede vir die eerste keer besoek het. Omring deur duisende singende jongmense in die destydse Standard Bank-arena in Johannesburg, het die lied my so diep geraak, my selfs totaal bewoë gelaat.

Behalwe vir die mooi melodie, is die woorde van hierdie lied, hoewel eenvoudig en sober, niks minder as aangrypend nie.

Oor en oor herinner dit ons dat, in ons gebroke wêreld vol onreg en geweld, die bloed van Christus vandag steeds vrede, verlossing, lof, oorwinning en troos as ʼn onwrikbare belofte aan ons fluister.

Dit is miskien ʼn ou boodskap, maar wie met ʼn oop hart daarna luister, sal weet: Dit is ʼn goeie tyding. Die beste wat jy kan aanhoor.

Gaan luister gerus vandag daarna as jy kan.

Here, dankie vir musiek waardeur U ons harte aanraak en ons troos. Ons loof en prys U daarvoor. Amen.

Carel Anthonissen