Home » Julie » Ons eintlike roeping

Ons eintlike roeping

Leef as kinders van die lig … Beproef wat vir God aanneemlik is (Efesiërs 5:8, 10, Direkte Vertaling).

Hierdie week praat ek met ʼn gesoute joernalis. Hy het onlangs dié werkterrein verlaat, deels omdat hy ander fasette van die lewe wil verken.

Maar ook omdat sekere aspekte van die perswese hom begin hinder en vermoei het. In sy woorde: “Baie van die berigte wat ek deesdae lees, is nie net eensydig en sensasioneel nie, maar wakker doelbewus woede en verontwaardiging aan. En dra so by tot die polarisering in ons samelewing.”

My waardering vir joernaliste wat nie huiwer om deur goeie beriggewing die kwaad en onreg aan die kaak te stel nie, is steeds groot. En tog moet ons – gedagtig aan my vriend se woorde – versigtig wees om nie so daardeur beïnvloed te word dat ons in ʼn staat van permanente woede en verontwaardiging beland nie.

So kan ons maklik ons ware roeping as gelowiges vergeet en verloën.

Duidelik spel Paulus dit in Efesiërs 5:8-14 uit: Ons moet as kinders van die lig leef. Soos mense wat allereers op soek is na dit wat vir God aanneemlik is. Mense wat hulle nie langer bemoei met die vrugtelose praktyke van mense wat kwaadwillig en negatief is nie. Wat nie toelaat dat sulke mense ons met allerlei onwaarhede mislei nie.

Inteendeel. As gelowiges moet ons, in Paulus se woorde, verstandig leer leef. Dit is met oop oë en ʼn nugter verstand. Sodat ons kan onderskei tussen dit wat negatief en sleg is en dit wat lewe en hoop kan bring.

Op dié manier – só beskryf Paulus ʼn vrugbare lewe – bevorder ons dit wat reg en waar en goed is.

Here, bewaar ons vandag van vrugtelose praktyke en woorde. En leer ons om kinders van die lig te wees. Amen.

Carel Anthonissen