Home » Julie » Die heiligheid van die alledaagse

Die heiligheid van die alledaagse

Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra (2 Samuel 12:20).

Onlangs vertel ʼn vriendin my van ʼn steekproef wat in ʼn stadium onder die oorlewendes van ʼn strafkamp gedoen is.

Die vrae van die steekproef was: Waarna het jy in dié tyd en ook daarna die meeste verlang? En: Waaroor het jy gefantaseer?

Die antwoorde was ʼn verrassing. Dit het laat blyk dat dit waarna die meerderheid mense verlang het nie soseer iets ekstaties of buitengewoon was nie. Dit was die alledaagse, selfs die huishoudelike: soos om ʼn brood te gaan koop, te eet, skottelgoed te was, of gesellig en ontspanne by vriende of familie te kuier.

Die vriendin wat my van die steekproef vertel het, het onlangs haar ma op ʼn gewelddadige manier verloor. Maande lank het die smart van die verlies haar gedagtes, gevoelens en optrede bepaal. Dit was asof sy nie daarvan kon loskom nie.

Totdat sy op ʼn dag weer, soos sy dit noem, die heiligheid van die alledaagse ontdek het. En besef het hoe sy heeltyd daarna verlang het. Net soos die slagoffers van die strafkampe.

Dit bly bowenal die een ding waaraan die graad van ons herstel of genesing ná ʼn terugslag of verlies gemeet kan word: of ons kan terugkeer na die alledaagse lewe en dit as ʼn heilige gawe opnuut kan ontdek en herwin.

Net soos Dawid ná die traumatiese dood van sy seun.

Here, dankie vir die gawe van die gewone lewe waardeur ons van ons smart en terugslae bevry kan word. Amen.

Carel Anthonissen