Home » Julie » Die woord was skaars

Die woord was skaars

Die woord van die Here was in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbaringe nie (1 Samuel 3:1).

In 1 Samuel 3 hoor ons die verbasende nuus dat God se woord in die laaste jare van die rigterstyd, net voordat Samuel as profeet sou begin optree, maar min gehoor is.

Die ou vertaling sê die woord van die Here was in dié tyd skaars.

Hoe presies het dit gebeur? Waaraan moet ons dit toeskryf? En sê dit iets vir ons leeftyd?

Dit het beslis nie gebeur omdat God nie meer teenwoordig of aan die werk was nie. Nee, die dieper rede was – so hoor ons in 1 Samuel 2 – die korrupsie van die priesters, in dié geval Eli se twee seuns. Hulle was slegte mense wat nie net die volk se offerandes gesteel het nie, maar ook by die vroue van die tempel geslaap het (2:12-16, 22).

Die ergste van hulle sonde was dat hulle daarmee die volk verlei en hulle geloof in God ondermyn het. Want, só hoor ons, vanweë hulle onverskilligheid het die volk hulle agting vir die offer van die Here verloor (2:17). Daar was by hulle nie meer ʼn besef van hulle sonde of skuld nie. Ook geen behoefte om daarmee in die reine te kom en só ʼn sinvolle verhouding met God moontlik te maak nie.

Soos vir die seuns van Eli, oor wie ons lees dat hulle nie met die Here rekening gehou het nie (2:12), was God ook vir die volk nie meer belangrik nie, nie meer deel van hulle lewensagenda nie. Almal het na hulle eie belange omgesien en gedoen wat reg is in hulle eie oë (Rigters 21:25). En dít was dit.

Geen wonder die bewussyn van God het vervaag en sy woord het skaars geword nie.

Presies soos vandag.

Here, vandag weet ons dat u woord skaars is omdat mense nie meer op U ingestel is nie. Omdat hulle nie meer lus is om na U te luister nie. Here, maak ons ore oop. Praat weer met ons! Amen.

Carel Anthonissen