Home » Julie » Vreesloos, maar met respek

Vreesloos, maar met respek

Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie. En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil” (1 Samuel 3:18).

Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie (1 Samuel 3:19).

Hoe moeilik en selfs pynlik dit soms kan raak om ʼn draer van God se woord te wees en só jou roeping uit te leef, sien ons duidelik in Samuel se lewe.

Hy moes die oordeel van God aankondig oor die seuns van Eli se vergrype, asook oor hulle pa se versuim om hulle te bestraf (1 Samuel 3:11-14). Dit sou die weg open om God se misleide volk na God toe terug te bring.

Maar hoe gemaak wanneer jou opdrag die intieme familielewe van jou vertroude vriend en mentor gaan verwoes? Geen wonder dat Samuel aanvanklik sku was om die Here se boodskap met Eli te deel nie. Maar danksy Eli se aandrang het hy nie teruggediens nie. Samuel het hom alles vertel, al sou sy boodskap die einde van Eli en sy hele familie beteken (3:18).

Weliswaar tref dit ons dat hoewel Samuel se boodskap ʼn eerlike en harde woord was, een wat letterlik die ore sou laat tuit het (3:11), hy nie daarmee sy eerbied, respek en liefde vir sy ou leermeester prysgegee het nie. Trouens, die indruk is dat hulle albei hulle neergelê het by die goeie wil van God, hoewel hulle God se pad vorentoe nie volledig kon peil nie (3:18).

Ten slotte is dit waarom egte roeping gaan. Dat jy, soos Samuel, trou sal bly aan dit wat God vandag in jou spesifieke omstandighede of beroep van jou vra. Selfs al beteken dit dat jy, soos Samuel, sekere onregverdige praktyke moet blootlê, selfs mense in die proses moet aanspreek en bestraf; dat jy nie daarvoor sal terugdeins nie, maar dit vreesloos sal doen met die vertroue dat God jou sal bystaan (3:19).

Terselfdertyd moet ons, in navolging van Samuel, daarteen waak om ander mense in die proses af te skryf of selfs te verag.

Want sien, God se woorde van oordeel, waarvan ons die draers moet wees, is uiteindelik altyd gemik op inkeer, heling en herstel. Daaraan moet ons ewe hard werk.

O Here, maak ons vandag profete wat vreesloos u woord sal uitdra sonder om ons liefde en respek vir ander mense prys te gee. Amen.

Carel Anthonissen