Home » Julie » Maak daarvan ʼn storie!

Maak daarvan ʼn storie!

Toe het Job weer gepraat: “Luister goed na my woorde; so sal julle my die beste troos” (Job 21:1-2).

Karen Blixen, die bekende Deense skrywer, het eenmaal gesê: “All sorrow can be borne if you can put them into a story.”

Baie mense wat al op die donker pad van verlies gestap en die gepaardgaande smart of pyn daarvan beleef het, sal kan getuig hoe waar Blixen se uitspraak is. Van die verligting en hulp wat dit kan bring om jou droewe storie met iemand te deel. Of selfs daaroor te skryf. Om op dié manier uitdrukking te gee aan jou rou en dikwels verwarde gevoelens.

Julie Cameron, wat bekend geraak het vir haar boeke oor die waarde van skryf, het destyds haar alkoholisme op dié manier help besweer – deur gereeld, ja, elke dag te skryf en só van haar probleem ʼn eie storie te maak.

Hierdie praktyk werk natuurlik nie vir almal op dieselfde manier nie. Ook nie so onmiddellik soos wat ʼn mens dit graag sou wou hê nie. Mense is geneig om hulle smart te onderdruk, dikwels jare lank. En dit verg soms baie tyd en groot geduld om uiteindelik by die punt te kom waar jy ʼn bevrydende storie daarvan kan maak.

Soos Athol Fugard, die skrywer, wat vertel dat hy nou eers in sy tagtigerjare ryp en gereed voel om oor sy ingewikkelde verhouding met sy pa te skryf.

Feit bly, dit help om van jou smartlike ervarings ʼn storie maak. Een wat jy met ander maar ook met God deur gebed kan deel.

Here, U ken my storie. Vandag lê ek dit weer voor U bloot. Gee my meer perspektief, groter troos. Amen.

Carel Anthonissen