Home » Augustus » Die soeke na stilte en rus

Die soeke na stilte en rus

Hulle het met ʼn skuit na ʼn stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees (Markus 6:32).

Dat Jesus, volgens Markus 6:31, in ʼn stadium van sy lewe moeg was en wou rus, sê allereers iets belangrik oor God.

Dit is dat God Hom só met ons nood en behoeftes vereenselwig het dat God in die gestalte of liggaam van die mens Jesus onder ons kom woon het. En dáár, in Jesus se gestalte of liggaam, was God ook by tye moeg en afgemat. Ook dáár moes God, net soos op die sewende skeppingsdag, van sy arbeid rus.

In dié opsig stel Jesus vir ons ʼn belangrike voorbeeld – een wat ons lewe oneindig ryker en sinvoller kan maak as ons Hom hierin sou navolg. En dit is om stilte en rus ʼn uiters belangrike deel van ons lewe te maak.

Min mense sal hiermee stry. In die lig van ons gejaagde en oorvol lewe het stilte en rus vandag gesogte kommoditeite geword. Die probleem is dat ons programme, net soos Jesus s’n, meestal so oorlaai is van allerlei verpligtings en aansprake dat hierdie stilte en rus dikwels net ʼn verlange is.

Tereg herinner die geestelike skrywer Anthony de Mello ons daaraan dat rus en veral stilte nie altyd direk gesoek kan word nie. Iewers moet jy net eers in die oomblik tot stilstand kom en ontdek wie jy is – wat jy nou dink, hoe jy tans voel, waarna jy luister, wat jou liggaam alles vir jou sê. Dit wil sê, hoe vlak of diep jou asemhaling is, hoe stadig of vinnig jou hart klop, waarom jou maag bly grom, en so meer. Wie hierby vertoef, kom algaande tot rus en stilte. Ja, ontvang dit as ʼn gawe.

Soos De Mello dit stel: “Silence cannot be induced or sought directly. Just seek awareness and silence will appear.”

O Here, help ons vandag om tot stilstand te kom, al is dit vir ʼn kort oomblik. Om só stilte en rus as ʼn gawe te ontvang. Amen.

Carel Anthonissen