Home » Augustus » Die gesonde balans

Die gesonde balans

Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid (Markus 6:45).

Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword (Markus 6:56).

Wie Jesus se lewe, veral soos dit in Markus 6 beskryf word, noukeurig ondersoek, sal gou agterkom dat sy lewe ʼn wonderlike balans getoon het.

Aan die een kant het Jesus Hom gereeld in stilte afgesonder om daar te rus van al die veeleisende aansprake van mense op Hom. Hierdie verposing was noodsaaklik en ʼn tyd van innige gebed en omgang met sy Vader. Aan die ander kant het Hy telkens na die gewone lewe teruggekeer om daar, gedring deur God se liefde, mense in hulle nood by te staan en hulle wonde te genees.

Hierdie aanhoudende beweging tussen rus en werk, stilte en solidariteit, alleenheid en betrokkenheid was ʼn blywende kenmerk van Jesus se lewe. Hieruit het die gesonde balans van sy lewe geblyk.

Op ʼn wonderlike manier het hierdie twee dimensies of sfere van sy lewe – die private en die publieke – voortdurend op mekaar ingespeel en ʼn spanningsveld vol kreatiewe en hoopvolle moontlikhede geskep. Stilte en rus in God sou byvoorbeeld die onmisbare voorwaarde vir Jesus se helende betrokkenheid by mense word. Terwyl sy werk en die vermoeienis daarvan Hom telkens teruggedwing het na die stilte en die rus van sy Vader se liefdevolle en sorgende nabyheid.

Die vraag is of ons vandag hierdie balans ken. Want daarsonder kan ons werk maklik in suiwer ambisie verval. En loop ons lewe gevaar om uiteindelik hard, leeg en sinloos te word.

Heilige Gees, kom nou en maak ons vandag weer deel van Christus se lewe. ʼn Lewe wat begin met gebed en die rus in God en uitloop op vreugdevolle diens aan ander. Amen.

Carel Anthonissen