Home » Augustus » Mag die bome groen bly

Mag die bome groen bly

Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde, die wêreld en alles daarin. U het alles gemaak (Psalm 89:12).

Dit was eers die derde dag nadat ek die rommel in die parkie langs ons woongebied opgemerk het dat die vraag in erns by my opgekom het.

Wie op aarde sou hulle rommel sommerso hier kom strooi het? En is hulle nie skaam daaroor nie?

Want sien, skaamte, veral oor sulke onverskillige gedrag, bly tog altyd ʼn belangrike aanduiding van spyt, van ʼn gewete wat pla. Ook van ʼn gevoel dat jy jou verantwoordelikheid teenoor jou medemens en die natuur verwaarloos het.

En dit graag wil regstel.

Die gevoel van geregverdigde woede en verontwaardiging wat my aanvanklik gepak het oor hierdie onnodige gemors in ʼn relatief onskuldige landskap het – gelukkig – mettertyd oorgegaan in ʼn wens, ʼn bewoë verlange, indien nie selfs ʼn gebed nie. Een wat roerend uitgedruk word in hierdie eenvoudige woorde van Breyten Breytenbach:

“Mag die bome groen bly en die sterre wit. Mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk. Want die lewe is ʼn asem lank. En die sterre aan die ander kant, donker.”

O laat ons die verontwaardiging, maar veral hierdie verlange of gebed, nooit prysgee nie. Want daarsonder sal ons parke vuil bly en die kosbare lewe wat God geskep het tot niet gaan.

O Here, mag u bome groen bly en u sterre wit. En mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk. Amen.

Carel Anthonissen