Home » Augustus » Die God van verrassings

Die God van verrassings

Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik ʼn kind in die wêreld bring noudat ek oud is? Is iets te buitengewoon vir die Here?” (Genesis 18:13-14).

Die Skotse geestelike Gerhard Hughes het bekend geword vir sy boek God of surprises.

In hierdie boek, wat mettertyd ʼn lewensboei vir baie twyfelende gelowiges geword het, herinner Hughes ons daaraan dat die God van Jesus ʼn werklikheid is.

Meer nog, in die lig van Jesus se woorde en werke betoog hy dat hierdie God ons boonop kan verras. Dit wil sê, dinge in ons lewe kan doen wat ons glad nie verwag het nie. Of waarop ons nie gereken of selfs gehoop het nie.

Kortom, die God van Jesus – so voer Hughes aan – kan steeds, soos in die tyd van Abraham, ons lot of lewenskoers dramaties verander deur dit wat skynbaar onmoontlik is om te keer of moontlik te maak.

Daar word vertel dat biskop Desmond Tutu tydens sy stryd teen die onregte van apartheid erken het dat wat hom in daardie swaar tyd aan die gang gehou het niks anders was nie as hierdie waarheid. Ja, die wete en geloof dat God die God van verrassings is, die God vir wie niks te buitengewoon is nie.

Wat my tog laat wonder of ons as gelowiges dit vandag nog glo. Of het ons reeds tou opgegooi en ons neergelê by die fatalistiese geloof dat niks werklik kan verander nie?

Here, ons aanbid U vandag as die God van verrassings – die lewende God wat buitengewone dinge in ons lewe kan doen. Amen.

Carel Anthonissen