Home » Augustus » Jou gawe maak saak

Jou gawe maak saak

ʼn Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: “Hier is ʼn seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (Johannes 6:8-9).

Een van die verrassende perspektiewe op die God van die Bybel is dat hierdie God mense gebruik om sy koninkryk van oorvloed en vrede op aarde te help vestig.

Duidelik sien ons dit in Johannes 6 waar Jesus as die Seun van God die skare op ʼn wonderbaarlike manier voed.

Aanvanklik, daarvan vertel Markus ons, versoek Jesus sy dissipels om die skare te voed (Markus 6:37). Maar wanneer hulle kleingelowig reageer, neem Jesus die inisiatief. En Hy maak gebruik van ʼn onopvallende gawe of bydrae: die padkos van ʼn onbekende seuntjie (Johannes 6:8-11).

Hoewel ʼn naamlose figuur sonder enige status, speel die kind ʼn belangrike rol in die voeding van die skare. Sy beskeie bydrae verskaf die vonk wat tot Jesus se wonderwerk lei. Ja, in Jesus se hande word dit ʼn oorvloedige seën.

Ook ʼn herinnering dat geen gawe of taak van ons, hoe klein ook al, onbelangrik is in God se heilsplan vir die wêreld nie. Solank ons dit as ʼn offer met oorgawe aan God wy. Tereg skryf Oswald Chambers hieroor:

“As soon as we abandon ourselves to God and do the task He has placed closest to us, he begins to fill our lives with surprises.”

Kom dan, bring jou gawes. En laat die God van Jesus jou verras!

Here, ons het nie veel om aan te bied nie. Maar wat ons het, bring ons vandag na U toe. Seën en gebruik dit. Amen.

Carel Anthonissen