Home » Augustus » ʼn Gerieflike kontak

ʼn Gerieflike kontak

Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het” (Johannes 6:26).

Waarom glo mense in Jesus? Ja, waarom volg jý Hom?

Hierdie vraag bly belangrik omdat Jesus deur die eeue heen verkeerd verstaan en daarom om die verkeerde redes gevolg is.

Duidelik blyk dit uit Johannes 6 wanneer Jesus die skare daarop wys dat hulle Hom eintlik net om een rede volg: “Omdat hulle van die brood wat Hy voorsien het, geëet en versadig geword het” (6:26).

Uit Jesus se woorde blyk dit – om dit in meer moderne taal te stel – dat Hy vir hulle net ʼn gerieflike kontak of naam was, een wat sekere voordele vir hulle kon verseker, in dié geval brood. ʼn Beskikbare skakel om hulle doelwitte te bereik, hulle selfsugtige ambisies en planne te vervul.

Kortom, Jesus was vir hulle niks meer nie as ʼn verskaffer van gratis brood, ʼn Messias wat altyd beskikbaar was.

Nie dat Jesus nié ook gekom het om as ʼn heler en wonderwerker in mense se liggaamlike behoeftes te voorsien nie. Tereg leer Hy ons bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

Maar Jesus is veel meer as ʼn kontak om te gebruik of ʼn naam om mee te smous. Hy is, in sy eie woorde, die ware brood uit die hemel – brood wat nie vergaan nie en wat God die Vader vandag nog aan ons skenk om aan ons die ware lewe te gee (6:32-33).

Hieroor praat ons môre verder.

Here, vergewe my dat ek u Naam dikwels gebruik net om my belange te dien. Help my om U opnuut te ontdek as die brood vir mý lewe. Amen.

Carel Anthonissen