Home » Augustus » Oorsig van die dag

Oorsig van die dag

Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon (Psalm 4:9).

Vir dié wat te moeg is om saans te bid, of wat sukkel om te slaap, is daar ʼn ou dissipline uit die Christelike tradisies wat kan help.

Dit staan bekend as “Oorsig van die dag” of, in Engels, “Review of the day”.

Waaroor dit gaan, is om kort voor jou slaaptyd, of wanneer jy reeds in die bed is, die gebeure van die dag voor jou te laat afspeel. Gewoonlik begin jy deur na te dink oor al die goeie dinge wat die dag met jou gebeur het, deur selfs die gevoelens wat dit by jou opgewek het weer te beleef.

En dan vir God daarvoor dankie te sê.

Daarna herroep jy ook wat sleg en onaangenaam was. En laat jy dit met vertroue in God se hande.

Hoe so ʼn oorsig van die dag kan verloop, word mooi in Michael Ondaatje se boek The English patient beskryf waar hy van die verpleegster, Hana, se slaapuur vertel:

“Moments before sleep is when she feels most alive, leaping across fragments of the day, bringing each moment into the bed with her like a child with schoolbooks and pencils. The day seems to have no order until these times, which are like a ledger for her, her body full of stories and situations.”

Wie ernstig hiermee besig raak, moenie verbaas wees as hulle, soos die digter van Psalm 4, ontdek dat hulle mettertyd onbesorg is en dadelik aan die slaap raak nie.

O Here, maak my rustig. Help my om elke aand my dag met al sy vreugdes en bekommernisse aan U oor te gee. Amen.

Carel Anthonissen