Home » Augustus » Op moedverloor se vlakte

Op moedverloor se vlakte

Elia het bang geword en vir sy lewe gevlug … Daar [in die woestyn] het hy onder ʼn besembos gaan sit en gewens hy gaan dood (1 Konings 19:3-4).

Een van die belangrikste gebede wat ons as gelowiges kan bid, is vir blywende vertroue en bestendigheid op ons lewenspad.

Om dit anders stel: dat ons, soos ʼn goeie atleet, die nodige krag en uithouvermoë sal hê om die spreekwoordelike wedloop wat voor ons lê met volharding en moed vol te hou (Hebreërs 12:1-2).

Want ongelukkig gebeur dit dat ons soms langs die pad moeg en moedeloos word, in so ʼn mate dat ons dit oorweeg om tou op te gooi. Presies soos Elia wat, volgens 1 Konings 19, in ʼn stadium onder ʼn besembos gaan sit en gewens het hy gaan dood.

Hoe ironies, selfs onbegryplik, is dié verhaal nie! Want kort vantevore, so hoor ons in 1 Konings 18, het Elia – oortuig van God se unieke trou en mag – met groot selfvertroue die profete van Baäl uitgedaag én die loef afgesteek. En nou, bloot dae daarna, sit hy op moedverloor se vlakte – ʼn patetiese figuur wat vreesbevange voor die dreigemente van Isebel vlug. En in die woestyn onder ʼn besembos kla dat hy nou genoeg gehad het.

En dat sy enigste wens die dood is.

Inderdaad ʼn verrassende wending. Tog is dit hoe ons lewe soms verloop. En tot tyd en wyl God ons lot ten goede verander – en daarop mag en moet ons altyd bly hoop en vertrou – moet ons leer om met hierdie dikwels onuitstaanbare paradoks saam te leef.

Om dit ook met geduld en verwagting in God se hande te laat.

Here, hoe deurmekaar is ons lewe nie baie dae nie. Hoe onbetroubaar is ons nie. Kom nou, Heilige Gees, skep in ons ʼn meer bestendige gees. Amen.

Carel Anthonissen