Home » Augustus » Selfbehepte smart

Selfbehepte smart

Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring” (1 Konings 19:10).

Een van die groot redes waarom ons moeg word op die pad van die lewe en dan op moedverloor se vlakte beland, is dat die lewe so onvoorspelbaar is.

Dinge gebeur waarop ons glad nie voorbereid is nie en wat ons lewe oornag ontwrig en van balans gooi. Sodat angs en vertwyfeling ons dae en nagte begin oorheers.

Dít bring mee dat God se beloftes in ons lewe vervaag. Ja, dat die goeie herinneringe aan God se sorg in die verlede verdring en deur allerlei spookbeelde vervang word. Ons horison, wat vroeër so rooskleurig en vol hoop was, is skielik donker en uitsigloos.

Wanneer so ʼn skaduwee eers oor ons lewe begin val het, is dit baie moeilik om daarvan ontslae te raak. Soos Elia, verval ons dan maklik in selfbehepte smart en word ons taal dié van verwyt en selfbejammering.

Luister maar weer na Elia se klag in 1 Konings 19:10 – asof God hom, ná al sy moeite en opofferings, in die steek gelaat het. En hy nou die enigste oorblywende profeet en regverdige is, een wat voortaan met ʼn permanente swaard bokant sy kop sou moes leef.

Kom ons sê dit vir mekaar: Die gevaarligte begin flikker as dit ons enigste deuntjie in die lewe blyk te wees. Gelukkig, en dit moet ons ook in Elia se storie hoor, is God steeds daar.

Ons lewe hoef nooit in so ʼn donker gat te eindig nie.

Here, vergewe ons ons bitter gemoed en negatiewe taal. En dit terwyl ons dikwels self daarvoor verantwoordelik is. Gee ons vandag weer die hoop wat eie is aan egte geloof. Amen.

Carel Anthonissen