Home » Augustus » Troos wat kan opbeur

Troos wat kan opbeur

Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op (Psalm 94:19).

In Psalm 94, waar die psalmdigter moedeloos kla oor die onreg en geweld van goddelose mense, kom daar uiteindelik tog ʼn betekenisvolle deurbraak, ʼn bevrydende en troosvolle wete of oortuiging.

Aangrypend mooi verwoord die psalmdigter dit in vers 19: “Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op.”

Van waar dié bevrydende wending, hierdie onverwagse en opbeurende troos?

Soos in ʼn paar ander psalms, hang die wending en troos direk saam met die hernude en verrassende ontdekking dat God, terwyl God nooit die outeur of oorsaak van onreg kan wees nie (94:20), dit wel opmerk en mense mettertyd daaroor tot verantwoording roep (94:9-10). Trouens, in die geval van die goddeloses keer God hulle onreg op die lang duur teen hulle sodat hulle uiteindelik deur hulle eie kwaad ingehaal en vernietig word (94:23).

Die geskiedenis is dikwels ʼn klinkklare bewys hiervan.

Op dié manier red God nie net God se eie eer nie, maar tree God vir sy eie volk, sy kosbare erfdeel, in die bres. Sodat die psalmdigter aan einde van sy gedig kan juig: “Die Here het vir my ʼn toevlugsoord geword, my God het my rotsskuiling geword” (94:22).

In hierdie wete of oortuiging, wat vandag ook vir jóú geld, skuil die troos wat die psalmdigter opgebeur het toe sy ontsteltenis oor ongestrafte onreg breekpunt bereik het.

Here, dankie dat U te midde van donker tye ʼn toevlugsoord bly vir hulle wat op U vertrou. Dit is ons troos. Amen.

Carel Anthonissen