Home » September » Om ʼn goeie mens te wees

Om ʼn goeie mens te wees

Wees goed vir mekaar, welwillend, terwyl julle mekaar vergewe soos God in Christus julle ook vergewe het (Efesiërs 4:32).

In Efesiërs 4 – 5 herinner Paulus ons aan een van die belangrikste waarhede wat ons in die loop van ons lewe kan hoor – dit is dat die vriendelike lig van Christus se liefde wat alle donkerte en wanhoop verdryf, reeds oor ons skyn.

En dat ons elke dag uitgenooi word om ons lewe daaronder te stel. Alleen só word ons lewe die moeite werd, word dit ʼn lewe wat vrugbaar en vol betekenis is.

Die eerste vrug van ʼn lewe wat in die lig van Christus se liefde floreer, volgens Paulus, is goedheid (Efesiërs 5:9). Dit is ʼn lewe wat, hoe ongelooflik dit ook al klink, iets van Christus se eie goedheid en guns begin afspieël.

Hoe so ʼn lewe lyk, word nêrens mooier beskryf nie as in Fyodor Dostojefski, die Russiese skrywer, se boek The Idiot.

In ʼn ironiese toespeling op Christus, wat in sy tyd dikwels verkeerd verstaan en selfs as naïef-idioties beskou is, gebruik Dostojefski in sy boek die hoofkarakter Lev Nicolaevich Myshkin om uit te beeld hoe ʼn ware goeie mens se lewe lyk. Want dit is wie Lev was: iemand wat nie net deurentyd positief, vriendelik en vergewensgesind was teenoor almal nie, maar wat mense ook altyd aan hulle beste potensiaal herinner het.

Dít, uiteindelik, is wat egte goedheid beteken: dat ons, soos Christus, altyd positief en liefdevol sal bly. En alle mense in die lewe ʼn kans sal gun. Selfs al dink mense jy is om dié rede totaal naïef.

Here, skyn vandag met u liefde weer so oor ons lewe dat iets van u goedheid wat alle mense ʼn kans gun, kan deurbreek. Amen.

Carel Anthonissen