Home » September » Sonder verwyte

Sonder verwyte

“Hy was nog ver weg, toe het sy pa hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom om die nek geval en hom gesoen” (Lukas 15:20).

Dikwels wanneer ek die troos vergeet wat die evangelie ons bied, dink ek aan ʼn eenvoudige verhaal waarvoor my kinders, toe hulle kleiner was, baie lief was.

Dit gaan oor die voortvarende dogtertjie Charlotte wat altyd gereed was vir nuwe avonture. Al was die meeste van haar inisiatiewe oorhaastig en riskant. En dan was daar haar goeie vriend, Patrick, wat altyd aan haar sy was, maar veel meer beskeie en versigtig as Charlotte. Sodat sy hom dikwels van lafhartigheid en pieperigheid beskuldig het.

Tog het Charlotte geweet dat Patrick altyd in al haar gevaarlike kapperjolle by haar sou bly staan. Soos die dag toe sy in ʼn buiteband teen ʼn steil bult af is en in die proses haar nerwe afgeval het. Arme Patrick was vreesbevange. Toe hy haar uiteindelik bereik, het hy besorg uitgeroep: “Charlotte, het jy seergekry? Kan ek jou help?”

Nadat sy opgestaan en haarself afgestof het, het ʼn glimlag skielik Charlotte se gesig verhelder en sy het sag geprewel: “Liewe, Patrick, dit is wat ek altyd van jou sal onthou. Jy sê nooit: ‘Ek het jou mos gesê!’ nie!”

In hierdie eenvoudige, maar diep menslike woorde hoor ons vandag ʼn weerklank van die evangelie – die troos van die sorgsame God wat, wanneer sy geliefde kinders, soos Charlotte, soms gehawend en gekneus voor Hom staan, hulle nooit verwyt of betig met die woorde: “Ek het jou mos gesê!” nie, maar hulle eerder met sorg en deernis tegemoettree.

Die vraag is: Weet jy dat hierdie troos en deernis ook vir jou geld? Selfs al lê jy vandag, figuurlik gesproke, gehawend in stof en pyn.

Here, u liefde is soveel groter as myne. Dit beskuldig of verwyt nooit nie, maar omhels my altyd met deernis. Ek loof U vandag weer daarvoor. Amen.

Carel Anthonissen