Home » September » ʼn Kosbare erfenis

ʼn Kosbare erfenis

Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie … Julle doen die regte ding as julle daarop fokus soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte (2 Petrus 1:16, 19).

En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is (Romeine 5:5).

Die meeste mense wat ouer word, begin hulle lewe algaande inperk.

Hulle reis al minder, gaan bly in kleiner plekke, doen afstand van oortollige besittings en onttrek hulle al meer van die alledaagse lewe. Baie verloor selfs belangstelling in die mense of dinge wat hulle vroeër begeester het.

Daar is wel uitsonderings op dié reël. Soos ʼn vriendin van ons wat onlangs oorlede is. Hoewel die ouderdom se kwale haar mettertyd ook na die kleiner ruimte van ʼn versorgingsoord gedwing het, het sy baie moeite gedoen om haar gees te bly verruim. Om haar geloof te verdiep.

Die gevolg was dat sy met haar dood vir haar kinders ʼn ryke en kosbare erfenis nagelaat het, een waarop hulle vandag met trots ook húlle lewe kan bou. Hierdie erfenis, wat ook die verdieping in hierdie vrou se geestelike lewe verklaar, kan saamgevat word in die bostaande verse.

Albei gaan oor die hoop wat Christus gebring het toe Hy deur sy Gees God se groot genade en liefde in ons lewe uitgestort het. Wie hierop fokus en daaruit leef, so getuig Petrus, begin eerstehands ervaar hoe hoop in hulle harte opgaan, soos die winkende môrester wat ʼn nuwe dag aankondig.

Hierdie hoop, so het ons vriendin ervaar, laat jou nie net elke dag met geesdrif en vreugde opstaan nie, maar laat jou ook elke aand in vrede gaan slaap met die onwrikbare wete: My lewe is vir tyd en ewigheid veilig in God se hande.

Dié wete is inderdaad ʼn kosbare erfenis wat ook vir jou bedoel is.

Here, die genade en liefde wat U in Christus aan ons bewys het, is vandag weer die bron van ons hoop vir tyd en ewigheid. Amen.

Carel Anthonissen