Home » September » Ons aardse lewe is net so belangrik

Ons aardse lewe is net so belangrik

Dié Spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat (Spreuke 1:2).

In sy kommentaar op die boek Spreuke, wys Eugene Peterson, die Kanadese geestelike, insiggewend daarop hoe baie mense die Bybel bloot sien as ʼn hulpmiddel om hulle in die hemel te kry, om hulle te help om hulle te red.

Terwyl hy toegee dat die Bybel wel erns maak met die hoop op ʼn lewe ná die dood, herinner hy ons tereg daaraan dat die Bybelskrywers hulle ewe sterk besig gehou het met die belang van ons aardse lewe. In sy woorde: “In our Scriptures, heaven is not the primary concern, to which earth is a tagalong afterthought. ‘On earth as it is in heaven’ is Jesus’ prayer.”

Die term wat die Bybel gebruik om die aard van hierdie aardse lewe te beskryf is wysheid. Wysheid het te doen met die praktiese vaardighede wat ons nodig het om ons alledaagse lewe, met al die verskillende dimensies wat dit omvat, sinvol te leef.

Wysheid, so hoor ons veral in die Spreukeboek, help ons byvoorbeeld om ons ouers te eer, ons kinders gebalanseerd groot te maak, sober en met selfbeheersing te leef, in gesprekke ons woorde goed te kies, hoflik op te tree teenoor mense en, les bes, ons geld verantwoordelik te bestuur.

Egte wysheid, so herinner die Spreukeboek ons, is egter nie iets wat ons vanself kan bekom nie. Wysheid begin by eerbied vir God en vir sy wil of gebooie. Uiteindelik vloei dit voort vanuit ons gemeenskap met Christus. Dit word geïnspireer deur sy lewe en voorbeeld.

Here, leer ons vandag wysheid. Leer ons hoe om in ons alledaagse lewe met oorgawe en vreugde voor u aangesig te leef. Amen.

Carel Anthonissen