Home » September » Twee kronieke

Twee kronieke

Maar ʼn mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna as die begeerte bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood (Jakobus 1:14-15).

Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan, sal hy as oorwinningsprys ontvang die lewe wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet (Jakobus 1:12).

Jakobus se beskrywing van hoe mense verlei kan word tot ʼn lewe van groter donkerte en dood bly relevant, ook vir ons tyd.

ʼn Mens kan sy relaas ook noem “die kroniek van ʼn slegte gewoonte”.

Want dit is presies hoe ʼn slegte gewoonte of, ernstiger nog, ʼn lewensgevaarlike verslawing werk. Dit is hoe dit ons lewe geleidelik kan uithol, vervlak en self vernietig.

Dit begin gewoonlik bly ʼn klein prikkel of, soos Jakobus dit noem, ʼn versoeking. Wie hulle hierdeur laat meevoer of verlei, steek gewoonlik ʼn eerste grens oor – ʼn grens wat hulle aanvanklik in groot skuld en skaamte kan dompel.

Sommige se weerstand en gewete sal op hierdie punt sterk genoeg wees om hulle van verdere toegewings te vrywaar. Ander wat geneties anders gerat is, of wat ʼn inherente swakheid vir die een of ander prikkel het, hetsy drank, dwelms of seks, kan dit moeilik, en selfs onmoontlik, vind om terug te draai. Hulle begin al hoe meer grense oorsteek, al hoe vryliker aan hulle begeertes toegee. En hulle beland mettertyd op ʼn rampspoedige glybaan.

Vroom woorde is hier dikwels nie genoeg om die spoed en omvang van verval te stuit nie. Ervaring leer dat dit dikwels net drastiese terapie is wat in sulke gevalle kan help. En tog, wie hulleself sover kan kry om stil te word en meer aandagtig te let op waarmee hulle besig is, en wie Jakobus se vermaning én belofte ter harte neem, kan ondek dat daar ook ʼn ander verhaal moontlik is.

Een wat ons kan noem “ʼn kroniek van genadige weerstand en oorwinning”.

O Here, U ken die versoekings in ons lewe. Maak ons vandag opnuut deel van u verhaal van oorwinning en bevryding. Amen.

Carel Anthonissen