Home » September » Die twee vlakke van angs

Die twee vlakke van angs

Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U (Psalm 88:2).

“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My” (Johannes 14:1).

Dit het onlangs tot my deurgedring dat angs op twee vlakke kan lê.

Die eerste is daardie angs wat veroorsaak word deur die een of ander trauma of terugslag soos die onverwagse dood van ʼn geliefde of die slegte nuus van ʼn ongeneeslike siekte.

Die ander vorm van angs is meer algemeen, langdurig en ons is dikwels onbewus daarvan. ʼn Mens kan dit, in pas met die eksistensialistiese filosofie van die na-oorlogse jare, ʼn soort bestaansangs noem.

Dit is daardie diepliggende gevoel van onrus en spanning, selfs van leegheid, wat jou soos stygende vloedwater bedreig. En jou veral in die nag kan pla en wakker hou – ʼn gevoel wat dikwels meegebring word deur die ouderdom wanneer die skaduwee van die dood naderkruip en jy in jou alleen-oomblikke ernstig begin wonder oor die sin van jou lewe. En of daar anderkant die graf iets meer gaan wees.

Nêrens word die angs wat deur hierdie vrae opgeroep word beter verwoord as in Psalm 88 nie. Lees dit gerus weer. Hier kla die digter in ʼn stadium: “U tref my met skrik en vernietig my. Dit bedreig my heeldag soos vloedwater … die duisternis van die dood is my geselskap.”

Al troos is dat sy angs en klagte deel is van ʼn gebed tot God. Wat meer kan ons doen as die angs ons keel laat toetrek en ons hart se ritme versteur?

Here, vergewe my my onnodige angstigheid. En help my om U meer te vertrou. Amen.

Carel Anthonissen