Home » September » Die bitter prys van arrogansie

Die bitter prys van arrogansie

Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges (Romeine 12:16).

My familie dink my televisie-smaak is soms vreemd, indien nie selfs bisar nie.

Maar ek hou van die boeiende National Geografic-program oor lugvaartongelukke. Die uiteenlopende redes vir hierdie ongelukke interesseer my. Soms is dié ongelukke die gevolg van onverwagte meganiese of elektroniese probleme. Ander kere spruit dit voort uit ʼn reeks menslike foute of flaters.

In een so ʼn ongeluk, ʼn Italiaanse vlug wat kort voor landing in ʼn klein heuwel naby Zürich-lughawe vasgevlieg het, het albei dié faktore ʼn rol gespeel. Eerstens was die hoogtemeter van die vliegtuig verouder en foutief sodat dit te laag was voordat hulle begin land het.

Toe die ondersoekbeamptes later luister na die stemopname in die stuurkajuit het hulle op ʼn tweede bydraende faktor afgekom: Die kaptein het tydens ʼn kritieke oomblik van die landing die waarskuwing en raad van sy jonger medevlieënier summier verontagsaam en selfs verwerp.

Later sou dit blyk dat dit die patroon tydens die hele vlug was. As ervare kaptein, so sou die vlugopname later toon, het hy vroeg tydens die vlug reeds neerbuigend en beterweterig met sy kollega gepraat. Hy het sy kollega se menings en voorstelle as minderwaardig afgemaak. Totdat sy halsstarrige arrogansie die lewe van vyftig ander mense gekos het.

Wat weer wys dat arrogansie, die neiging om hooghartig, aanmatigend en beterweterig te leef, hom op jou kan wreek. Dikwels met bitter en noodlottige gevolge.

Paulus se oproep in Romeine 12:16 bly in dié opsig relevant.

O Here, leer ons om nederig te leef en ander mense hulle reg en ruimte te gun om voluit en vry te leef. Amen.

Carel Anthonissen