Home » September » Die eerste plig van die liefde

Die eerste plig van die liefde

Dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19).

Iemand het onlangs opgemerk dat ons in ʼn eeu van onvoltooide sinne leef.

Dit is waar – luister maar waar mense ontmoet en gesprek voer. Hoe hulle mekaar dikwels onbewustelik onderbreek, die ander opgewonde met hulle stories in die rede val, of onmiddellik raad begin aanbied. Sodat die ander nooit hulle sinne voltooi kry nie, maar net al hoe stiller word.

Ons leef inderdaad in ʼn eeu waarin die kuns om lank en aandagtig te luister by baie verlore gegaan het. Mense is gewoon net te besig of so ingestel op hulle eie sake dat hulle ore toegegaan of afgeskakel het vir die ander.

Die hartseer van hierdie onvermoë om regtig goed te luister is dat dit dikwels ʼn gebrek aan liefde verraai, ʼn onwilligheid om tyd op te offer, jou eie opinie of raad op te skort en regtig aandag te gee aan die ander – regtig te luister na hulle stories, hulle hartseer. Tereg het die teoloog Paul Tillich geskryf: “Die eerste plig van die liefde is om te luister.”

As gelowiges wat die Bybelse wysheid eer, behoort ons dit tog te weet: Wie antwoord voor hulle die vraag gehoor het, is dwaas (Spreuke 18:13). En: Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19).

Ten slotte: Wie dit geniet om te luister, sal boonop ontdek dat hulle nog baie kan leer.

O Here, gee ons vandag oop ore en oop harte vir ander. Help ons om regtig te luister. Amen.

Carel Anthonissen