Home » September » Die vyand tussen ons twee ore

Die vyand tussen ons twee ore

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:6-7).

Leard Hamilton is ʼn bekende Amerikaanse branderplankryer en model wat in Hawaii grootgeword het.

Vroeg in sy lewe reeds het hy hom onderskei as iemand met ongekende liggaamlike en emosionele krag, die seldsame vermoë om in kritieke en bedreigende situasies deurentyd kalm en bedaard te bly.

So het hy as sewejarige dit al gewaag om ewe rustig van ʼn 20 meter hoë rots tot in diep water te spring. Sy waagstuk om ʼn 21 meter hoë brander te oorwin sonder om homself ernstig te beseer, word vandag nog as ʼn ongekende prestasie onder sy tydgenote beskou. Hy word tereg erken as die beste hedendaagse ryer van groot branders.

Op ʼn dag het Hamilton hierdie uitspraak gemaak: “Maak seker jou grootste vyand leef nie tussen jou eie twee ore nie.” Sy woorde vertolk op ʼn filosofiese manier die geheim van sy kalmte wanneer hy onder druk is. Dit is dat ons nooit sal toelaat dat negatiewe of afbrekende gedagtes ons lewensgevoel bepaal nie, of dat dit ons so angstig en bekommerd sal maak dat dit ons verlam en van al ons lewensvreugde beroof nie.

Nee, as gelowiges moet ons vandag opnuut let op ons gedagtes, op dit wat tussen ons twee ore aan die gang is. En dan luister wanneer Paulus ons toeroep: “Moet oor niks besorg wees nie … maak julle begeertes aan God bekend … en die vrede van God sal oor julle harte en gedagtes die wag hou” (Fil 4:6-7).

O Here, ek bring my angs en negatiewe gedagtes vandag weer na U toe. Neem my gedagtes gevange – en vul my denke met u vrede. Amen.

Carel Anthonissen